Idols begin Sondag op M-Net
2010-07-13 08:08
Kaapstad - Nie net is M-Net se hipergewilde realiteitsreeks Idols weer van Sondagaand af terug vir ’n sesde seisoen op die kassie met die Kaapse oudisies as wegspringpunt nie, die betaalkanaal begin ook weer ’n bykomende Idols-kanaal wat 24 uur per dag op die lug sal wees.
Die eerste episode van die nuwe Idols-seisoen begin Sondagaand om 17:30 op M-Net met Kaapstad se oudisies eerste aan die beurt.
Direk na afloop van die eerste episode sal die nuwe Idols Extra-kanaal op DStv se kanaal 199 begin. Idols Extra sal vir sewe weke lank uitsaai, totdat die regstreekse Idols-optredes op 5 September op M-Net begin.
Elke Idols-oudisie sal op Idols Extra uitgesaai word, maar die vervaardigers verpak dit mooi in tematiese programme wat wissel van alle deelnemers wat deurdring tot die volgende ronde, tot die beste, snaaksste en selfs swakste oudisies.
“Elkeen wat ’n oudisie gedoen het, sal die kans kry om op Idols Extra te verskyn,’’ het ’n M-Net-woordvoerder gister gesê.
In Sondagaand se Idols-episode wag daar verrassings, onder meer deelnemers uit vorige jare wat te vrot was om die paal te haal, maar besluit het om weer hul sangvermoë voor die geniepsige beoordelaars op die proef te stel.
- Die Burger