Identity Thief laat dollars inrol
2013-02-11 13:42
Los Angeles – Die komedie Identity Thief het die naweek skoonskip gemaak by die Amerikaanse loket en $36,6 miljoen (sowat R325 miljoen) verdien.
Jason Bateman, van Hancock-faam, en Melissa McCarthy, van die fliek Bridesmaids, vertolk die hoofkarakters in dié komedie, wat handel oor ‘n man wie se identiteit deur ‘n vrou gesteel word.
Die rolprent het goed by die loket vertoon ten spyte van 'n sneeustorm wat die noordoostelike Verenigde State getref het.
Universal Pictures, verspreider van Identity Thief, het vasgestel dat die rolprent sowat 10% minder by die loket verdien het as gevolg van die storm.
Warm Bodies, die vorige week se nommereen, het tot die tweede plek geval met $11,5 miljoen (sowat R102 miljoen).
Identity Thief begin die 22ste Maart in Suid-Afrika draai.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP