Ian McKellen sien rooi oor 'gay' belediging
2012-11-06 11:06
Wellington – Die Britse akteur Ian McKellen het Nieu-Seeland se premier, John Key, gekritiseer omdat hy die woord “gay” gebruik het om met ‘n radio-aanbieder se kleredrag te spot.
McKellen het gesê hy voel dié term moet nie informeel as ‘n belediging gebruik word nie.
Key het verlede week tydens ‘n radio-onderhoud met die omroeper Jamie Mackay gesê Mackay sal by ‘n gholf-kompetisie sukkel omdat hy ‘n “gay” hemp aanheda het.
Key het homself later verdedig en gesê dat hy net die term by sy kinders aangeleer het en dit nie lelik bedoel het nie.
“Jong mense gebruik dit die hele tyd. Ek dink nie baie mense sien dit as 'n belediging nie, maar as daar iemand is, vra ek verskoning. Ek stem vir gay huwelike, dit is nie asof ek homofobies is nie,” het Key aan verslaggewers gesê.
McKellen, wat Nieu-Seeland gereeld besoek vir sy rol as Gandalf in die The Lord of the Rings- en The Hobbit-rolprente, het gesê Key moet nie die term op dié manier gebruik nie.
“Mnr Key moet sy taal dophou,” het die akteur, wat ook ‘n prominente aktivis vir gay regte is, op sy webtuiste gesê.
“Ek hoop regtig John Key luister na sy kritici en besef waarom hulle bekommerd is. Sulke praatjies kan lewens verwoes.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP