HipHopKop wil die taal laat skop
2010-11-19 07:05
Die Burger
Oudtshoorn - Afrikaanse hip-hop kry Saterdag hier ’n hupstoot met die bekendstelling van ’n groot, nuwe Afrikaanse hip-hop- kompetisie, HipHopKop.
“Dit is die eerste keer dat ’n kompetisie van só ’n groot aard in Afrikaans aangepak word. Hip-hop is al só lank deel van Afrikaanssprekende mense se kultuur dat dit hoog tyd is dat dit die nodige en ’n geskikte platform kry,” het Deon Maas, projekleier van HipHopKop, gesê.
“Hierdie kompetisie poog om Afrikaanse hip-hop ’n platform te gee om sy regmatige plek in te neem tussen al die ander vorme van Afrikaanse musiek.”
Volgens Maas is daar besluit om die bekendstelling in Oudtshoorn te hou omdat die Suid- en Oos-Kaap ’n baie sterk bydrae tot hip-hop in Suid-Afrika lewer.
Denvor Hendricks van Oudtshoorn is die plaaslike organiseerder van HipHopKop.
Tydens die bekendstelling sal die hip-hop-kunstenaars Dokte, Hemelbesem, MC Cole en DJ Cue optree. Die bekendstelling word gehou as deel van die Most Wicked Motor Show.
Die tweede skof van die kompetisie sal van 2 tot 9 April tydens die Absa KKNK in 2011 plaasvind.
Hier sal rappers, b-boys en MC’s meeding om ’n platekontrak van R100000.
Me. Linda Wilson, kunste-onwikkelingsbestuurder van die Absa KKNK, het gesê: “HipHopKop gee aan hip-hop-kunstenaars in veral die Suid-Kaap ’n unieke en wonderlike geleentheid om hulself te bewys en hul talent te gebruik om ’n loopbaan in dié kunsvorm te begin.”
Tydens die konsert sal graffiti-kunstenaars ’n leë skilderdoek kry wat aan hulle die geleentheid sal bied om hul talent op die verhoog te vertoon sodat daar teen die einde van die aand ’n voltooide kunswerk as agtergrond is.
Mense wat wil inskryf, kan liedjies in ’n mp3-formaat na grootkop@hiphopkop.com stuur of by die webblad www.hiphopkop.com inloer.
Daar is ook ’n gewildheidskeuse waar die wenner aangewys sal word as die inskrywing met die meeste stemme.
Dié stemme word bereken uit stemme op die webwerf of via SMS. Hierdie wenner word onafhanklik van die algehele wenner gekies.
Die eerste ronde van HipHopKop vind tydens die Suidoosterfees in 2011 plaas en die laaste ronde sal tydens Aardklop in Potchefstroom plaasvind.
HipHopKop word ondersteun deur Rapport, Son, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en MK in samewerking met Media24.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger