HipHopKop-vertoning by Suidoosterfees
2011-01-17 10:27
HipHopKop, die hip-hop talent kompetisie wat deur Naspers geborg word om nuwe Afrikaanse talent na vore te bring en ‘n breër platform aan jong kunstenaars te gee, is besig om reg te maak vir die eerste vertoning.
Die vertoning gebeur as deel van die Suidoosterfees by ArtsCape op Vrydag 28 Januarie 2011 om 19h00. Jack Parow en DJ Ready D sal ook optree saam met die ses finaliste wat gekies word uit inskrywings van www.hiphopkop.com
Die kompetisie is geloods na aanleiding van die huidige kommersiële sukses van Afrikaanse hip-hop. Die kompetisie is afgeskop in Oudtshoorn op 22 November 2010 tydens ‘n vertoning van nuwe en meer bekende talent wat kunstenaars soos Kallitz en Hemelbesem ingesluit het.
Die doel van die kompetisie is om jong Afrikaanse hip-hop kunstenaars bloot te stel aan groter gehore en ‘n mediaplatform te gee. Altesaam 54 deelnemers van plekke so ver as Port Elizabeth, Jeffreysbaai, Alexandria, Barberton, George, Atlantis, Worcester, Mosselbaai en Walvisbaai het ingeskryf. Daar is reeds meer as 7 000 stemoproepe ontvang om een van die finaliste te bepaal.
Die vertonings gaan gepaard met werkswinkels om kunstenaars meer te leer van die musiekbedryf. Daar sal ‘n wenner uit die ses deelnemers gekies word. Die wenner wen ‘n platekontrak ter waarde van R100 000 by Ghetto Ruff, die vooraanstaande hip-hop platemaatskappy in die land.
Die publiek kan die webwerf www.hiphopkop.com besoek om na al die deelnemers te luister.
Vir verdere inligting: Deon Maas 083 231 8910