Hingis se eerste wals was haar laaste
2009-09-20 14:16
Londen - Die Britse publiek hou duidelik nie baie van Martina Hingis se dansvaardighede nie.
Sy was die eerste bekende om Saterdag uit BBC se nuwe seisoen van "Strictly Come Dancing" uitgestem te word.
Hingis en haar dansmaat, Matthew Cutler, was een van die twee paartjies met die minste stemme toe die telefoonstemme en beoordelaars se punte bymekaar getel is.
Hulle moes toe teen die polisieman en misdaadaanbieder, Rav Wilding, en sy dansmaat, Aliona Vilani, dans.
"Dit was 'n wonderlike ervaring, ek het so baie geleer," het sy gesê. "Miskien sal ek terugkom Londen toe vir nog 'n paar lesse."
Hingis het in 2007 uit tennis uitgetree nadat sy positief getoets is vir kokaïen en vir twee jaar geskors is.
-Sapa-AP