Herrie oor 'rassisme' op TV-program
2009-10-07 11:46
Londen – Die BBC wil nie toegee aan druk om ’n ster op sy reeks Strictly Come Dancing weensrassisme te diskwalifiseer nie.
Daar is ook groeiende druk op Anton du Beke om hom aan die reeks te onttrek nadat hy (van die stel af) sy dansmaat, Laila Rouass, ’n “Paki” genoem het.
Du Beke het “onomwonde” om verskoning gevra. “Daar was hoegenaamd geen rassistiese bedoeling nie, maar ek aanvaar dit gee aanstoot en ek is spyt dat ek die woord gebruik het.”
Rouass, wat van Indiese afkoms is, het hom gister verdedig. “Anton het om verskoning gevra en ek het dit aanvaar. Dit het ’n paar weke terug gebeur en nou het ons net ’n heerlike tyd. Ons wil net aanbeweeg.”
’n Woordvoerder van die teenrassismegroep Hope Not Hate het die BBC egter gekap. “As dit nie rassisties is om iemand ’n Paki te noem nie, wat is? Die program moet besluit of hy rassisme gaan toelaat, of vinnig en duidelik daarmee afreken.”
Sapa-AFP