Herrie oor gay-toneel in TV-reeks
2012-10-19 16:01
Athene – 'n Besluit om 'n toneel, waarin twee mans soen, uit die televisiereeks Downton Abbey te sny, het 'n herrie ontketen by Griekeland se staatsuitsaaier ERT.
Die maatskappy se besturende direkteur het dié besluit gekritiseer ná 'n rits klagtes, oor wat een van die uitsaaier se vlagskip-programme vir die winterseisoen moes wees.
"Die bestuur van ERT is nie van die besluit van arbitrêre sensuur in kennis gestel nie," het Nikos Simos, die maatskappy se besturende direkteur, in 'n verklaring gesê.
Hy het verder gesê die media was geregverdig om die besluit te kritiseer.
"Die tipe optrede moet in die toekoms verhoed word," het Simos gesê
Die algemene bestuurder van ERT het vroeër daarop aangedring dat sensuur nie toegepas moet word op die deel van die betrokke toneel nie. Die volle episode is Dinsdagaand weer uitgesaai.
"Die soen is weens die tydsgleuf van die program en die relevante geskiktheidsbeperking, nie uitgesaai nie," het Costas Spyropoulos, algemene bestuurder, gesê.
Die verkorte weergawe van die program is Maandagaand onder 'n "voorgestelde ouerbeheer beperking" uitgesaai, terwyl die volle episode Dinsdag ná middernag uitgesaai is.
In 2003 het die staat se nasionale raad vir radio en televisie 'n privaatkanaal beboet nadat 'n gay-toneel in 'n Griekse dramareeks uitgesaai is.
'n Hof in Griekeland het later dié beslissing omgekeer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP