Helenè Bester steeds gemonitor
2012-11-06 07:15
Johannesburg – Die sangeres Helenè Bester (36) se man, Jacques Theron, het gesê sy is in 'n kritieke, maar stabiele toestand en word gemonitor, het Beeld berig.
“Sy weet dat sy ons baba verloor het, maar dit het nog nie by haar geregistreer nie. Sy is nog baie deurmekaar en word verdoof."
Bloedklonte in haar been, lies en ’n lewensgevaarlike klont in haar long is drie weke gelede by haar gediagnoseer, het haar suster, Nadia Joubert, aan die koerant gesê.
Bester het Sondag gekla van maagpyn en ’n skandering het gewys sy bloei in haar buik waarna ’n noodkeiser uitgevoer is.
Suurstof na die egpaar se gesonde babadogtertjie is weens die bloeding afgesny, het Joubert gesê.
Theron het gesê sy vrou, wat reeds twee Comrades-wedlope voltooi het, was steeds fiks, sterk en gesond.
“Daar is ook baie dinge wat nog nie by my ingesak het nie. Ek is oortuig dat dit ’n wonderwerk is dat sy nog lewe.
“Dit gaan baie beter met my as (eer)gister (Sondag). In dié stadium is ek net bly my vrou leef en dit gaan onder omstandighede goed met haar.”
Die egpaar is twee jaar lank getroud.
– Volg Nuus24 op Twitter