Heigl wil terugkeer na Grey's Anatomy
2012-01-20 11:15
Los Angeles – Die aktrise Katherine Heigl wil graag weer terugkeer na die mediese televisiedrama Grey's Anatomy.
Die 27 Dresses-ster het die gewilde televisiedrama verlaat nadat sy in 2010 die program en haar karakter, Izzie Stevens, in die publiek gekritiseer het.
Sy het egter erken dat sy reeds met Shonda Rhimes, vervaardiger van Grey’s Anatomy, gepraat het oor 'n moontlike rol.
"Ek het aan hulle gesê ek wil terugkom. Maar ek weet nie. Sy is die skrywer van 'n televisiereeks so dit is so moeilik ek bedoel sy het reeds hoeveel karakters? Daar is so baie en om 40 verskillende storielyne uit te balanseer. Ek weet nie of dit by hul visie vir hierdie seisoen of die volgende een sal inpas nie," het sy aan E! Online gesê.
Die 33-jarige Heigl sê die hoofrede hoekom sy terug wil gaan is om Izzie se lot te ontdek nadat sy haar verhouding met haar man, Alex, beeïndig het en die Seattle Grace hospitaal verlaat het.
– iafrica.
– Volg Nuus24 op Twitter.