Hartebreker van Eden keelvol vir bekruiper
2010-05-24 10:15
Johannesburg. – Jay, die sespak-hartebrekersanger van die popgroep Eden, is die slagoffer van ’n bekruiper (algemeen genoem ’n stalker) wat hom eers seksueel geteister het en nou geldelik op sy spoor is.
Jay (32) sê indien die vrou, wat tien jaar ouer as hy is, nie met die teistering ophou nie, sal hy “nie anders kan nie as om die saak by die polisie aan te meld”.
Hy ken die vrou, omdat hulle sowat twee jaar gelede in ’n stadium sakevennote was.
“Dit is toe dat die seksuele teistering begin het. Sy het dit herhaaldelik baie duidelik gemaak dat sy seks met my wou hê en was veral blatant oor erotiese bekkenmasserings wat sy my wou gee.
“Ek het daarin geslaag om haar weg te hou, hoewel sy baie knaend was. Sy het my byvoorbeeld voorgelê in hotelle waarin Eden oornag het tydens optredes. Sy is egter hoegenaamd nie my tipe nie.
“Sy het klaarblyklik agtergekom sy gaan my nie in die bed kry nie, al doen sy wat. Nou het sy met ’n ander soort teistering begin.
Sy versprei vals stories dat ek haar geld skuld, terwyl die waarheid is sy skuld mý sowat R700 000.
“Ek betaal haar skuld, wat uit ons destydse vennootskapspruit, teen R12 000 per maand af. Nou plaas sy boodskappe op Facebook en stuur e-posse aan my familie en vriende, selfs my broer in Duitsland, dat ek haar geld skuld.
“Ek het nou besluit tot hier toe en nie verder nie. As sy nie haar stalking staak nie, sal ek polisie toe moet gaan.”
Jay het gerugte ontken die Eden-lede se paadjies gaan skei. “Ek werk aan ’n solo-album, maar Eden bly voortbestaan.”
Hy het ook bevestig hy het ’n kontrak met die onderbroekvervaardiger Bone Ware geteken as ’n model vir sy onderklere.
- Die regering oorweeg nou die Konsepwet op Bekruipery wat deur die Regskommissie opgestel is. Swaar strawwe word daarin vir bekruipers voorgeskryf.
- Volksblad