Harte oop vir Christa
2012-02-01 07:13
Kaapstad – Die organiseerders van nog ’n konsert ten bate van die pianis en liedjieskrywer Christa Steyn in Februarie “sal elke sent” wat verdien word aan Steyn skenk.
Die konsert, waar tien van die land se bekendste pianiste gaan optree, word op 25 Februarie deur die departement kunste aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom aangebied.
Die rektor, prof. Herman van Schalkwyk, is die beskermheer.
Steyn het gevorderde kanker wat van haar bors na haar lewer versprei het. Haar mediese behandeling is peperduur en die konsert word gehou om haar geldelik by te staan.
’n Vorige konsert ten bate van Steyn wat in November op Stellenbosch deur Maniac Music gehou is, het verlede week op ’n fiasko uitgeloop omdat Maniac Music twee-derdes van die inkomste teruggehou het.
Al die geld is intussen aan Steyn oorbetaal nadat die media daaroor berig het.
Chris de Bruyn van die universiteit wat oorhoofs in beheer van die konsert is, het gister gesê alles vir die konsert word gratis gedoen.
“Die kunstenaars, onder wie Coenie de Villiers en Johann van Rensburg van Noot vir Noot-faam, tree gratis op. Die universiteit stel die Sanlam-ouditorium met alle tegniese steun kosteloos beskikbaar. ’n Gastehuis skenk die kunstenaars se verblyfkoste. Reiskoste word deur borgskappe gedek en die kunstenaars se etes word ook geborg.
“Geen uitgawes sal van die kaartjie-inkomste verhaal word nie. Ondersteuners kan dus gerus wees.”
Op Steyn se eie versoek word ’n deel van die inkomste aan die Kankervereniging van Suid-Afrika geskenk.
De Villiers en Steyn se boesemvriend, die sanger Jannie du Toit, het die universiteit genader om die konsert aan te bied.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger