Harry verjaar, en die geld rol in
2009-09-15 14:22
Londen - Prins Harry van Engeland kon Dinsdag nie net sy 25ste verjaardag vier nie, maar ook ’n vet nuwe inkomste, te danke aan sy ma.
Die prins is nou oud genoeg om die inkomste wat sy erfporsie genereer, te geniet.
Harry se ma, die wyle Prinses Diana, het gelyke dele van haar boedel aan Harry en sy broer, Prins William, agtergelaat.
Die boedel het 12 jaar gelede ’n geraamde waarde van £13 miljoen (R159 miljoen) gehad. Die huidige waarde is nie bekend nie.
Diana, wat in 1997 in ’n motorongeluk dood is, het in haar testament bepaal dat haar seuns toegang tot die inkomste uit hul erfporsies sal hê ná hul 25ste verjaardae.
Die prinse sal toegang tot die kapitaal verkry wanneer hulle dertig word.
William is 27.
- Sapa-AP