Harry en Chelsy glo weer saam
2009-09-08 18:59
Korrespondent
Londen – Skindertonge klap dat prins Harry (24) sy romanse met Chelsy Davy hervat het nadat sy agt maande gelede op Facebook die einde van hul verhouding aangekondig het.
Die Britse poniepers het gister berig die twee het mekaar die afgelope weke verskeie keer in die geheim ontmoet, maar wil hierdie keer so min as moontlik aandag op hul verhouding vestig.
Davy (23) van Zimbabwe vind glo die gedurige media-kollig moeilik om te hanteer. Sedert sy in Januarie haar status op Facebook van “in ’n verhouding” na “enkellopend” verander het, is sy in die geselskap van verskeie jong mans afgeneem, maar dit was glo nie ernstig nie.
Bronne na aan die paartjie het aan die Mail on Sunday gesê Harry was “diep seergemaak” oor die trekpas op Facebook, maar is “desperaat” om weer haar hart te wen.
Intussen berig die News of the World dat die prins ewe vasbeslote is om op te hou rook en hom nou gewend het tot Paul McKenna, ’n hipnoterapeut, om hulp.
McKenna het al soortgelyke dienste gebied aan die Rolling Stones, Ronnie Wood en Guy Ritchie, Madonna se eks.
Harry rook al sedert sy skooldae by Eton en het in ’n stadium 20 sigarette per dag kafgedraf. Hoewel hy al die gewoonte vir ’n jaar kon los, het stres oor sy vliegopleiding in die koninklike lugmag hom glo weer laat begin.
- Beeld