Harry Potter kry pous se goedkeuring
2009-07-14 21:15
Vatikaan-stad – Die nuutste Harry Potter-film, ‘Harry Potter and the Half-Blood Prince’, het die pous en die Vatikaan se goedkeuring gekry.
Volgens Vatikaan-stad se amptelike koerant, L’Osservatore Romano, wys die film duidelik dat die goeie in die wêreld oor euwel sal seëvier. Die Vatikaan-stad-koerant het ook gesê die Harry Potter-film toon die “korrekte balans” van adolessente liefde, wat die storie meer geloofwaardig vir die gehoor maak.
Pous Benedict XVI heers oor Vatikaan-stad.
Die koerant het egter me. J.K. Rowling, skrywer van die Harry Potter-boekreeks waarop die films gebaseer is, gekritiseer omdat haar boeke geen duidelike verwysing na die hiernamaals het nie.
Die Vatikaan-stad-koerant het egter gesê die nuutste Harry Potter-film wys duidelik dat die goeie die slegte sal oorwin, en dat dié oorwinning soms ‘n opoffering mag verg.
Die pous se goedkeuring van die film volg op skerp kritiek teenoor Harry Potter deur ‘n Oosterse predikant. Eerw. Gerhard Maria Wagner het vroeër vanjaar gesê die Harry Potter-boeke versprei satanisme.
Christen-groepe het ook al in die verlede gesê die fantasieboeke promoveer heksery.
Baie kerke is egter van mening dat die boodskap van ‘n stryd tussen goed en kwaad in ooreenstemming is met Christelike moraliteit.
‘Harry Potter and the Half-Blood Prince’ sal Vrydag in Suid-Afrikaanse teaters begin wys.
-Reuters