Groot geeste gaan te sien wees by jazz-fees
2011-01-26 09:09
Kaapstad. – Die Amerikaanse saxofoonspeler en jazz-komponis Wayne Shorter (77) tree vanjaar by die Kaapstadse Internasionale Jazz-fees op. Die fees word op 25 en 26 Maart in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou.
Luidens ’n verklaring probeer die organiseerders hom al die afgelope drie jaar hier kry, maar weens sy besige toerskedule het dit nou eers moontlik geword.
Sowat die helfte van die musikante wat gaan optree, se name is nou bekend. Op die program is die bekende Earth, Wind and Fire uit Amerika, die Senegalees Youssou N’Dour, Sandra Cordera van Angola en Hanjin van Hongkong.
Een van die plaaslike kunstenaars wat ’n groot trekpleister behoort te wees, is die Afro-soul sanger Simpiwe Dana.
Ander kunstenaars wat reeds bevestig het dat hulle gaan optree, is Christian Scott, Dave Koz, Esperanza Spalding, Monique Bingham en Hubert Laws (almal van Amerika).
Daar word weer vanjaar ’n reeks slypskole gehou waar aspekte soos kunsjoernalistiek en die sake-aspekte van die musiekbedryf belig sal word.
’n Gratis konsert word op Woensdag 23 Maart op Groentemarkplein gehou.
Kaartjies kos R365 vir ’n dagpas en een vir die hele naweek kos R499 en kan by Computicket of Shoprite-Checkers gekoop word.
Vir meer inligting, besoek www.capetownjazzfest.com.
- Die Burger