Graeme Smith 'n dogtertjie ryker
2012-07-25 09:46
Kaapstad – Graeme Smith, toetskaptein van die Proteas, se vrou, Morgan Deane, het Woensdagoggend die lewe geskenk aan 'n dogtertjie.
"Ons dogter, Cadence Christine Smith, is vanoggend (Woensdag) gebore. (Sy weeg) 3,35 kg en ma en dogter is albei gesond. Dankie vir al die goeie wense, dit was 'n wonderlike dag," het Smith getweet.
Die nuus van die paartjie se eersteling het Twitter aan die gons gehad, met al hul vriende wat hulle gelukgewens het.
Onder die bekendes wat hulle gelukgewens het was AB de Villiers, Robin Peterson asook Krieket Suid-Afrika.
Smith het Maandagaand terugkeer na Suid-Afrika om sy vrou by te staan met die geboorte van hul eersteling.
Hy sal die twee dag lange opwarmingswedstryd teen Worcestershire misloop, maar sal betyds terugkeer vir die Proteas se voorbereiding vir die tweede toetswedstryd wat op 30 Julie in Leeds begin.
Smith het oor die naweek tydens sy 100ste toetswedstryd ‘n honderdtal teen Engeland behaal.
Morgan en Smith is in Augustus verlede jaar tydens ’n intieme plegtigheid in Nuweland, Kaapstad, getroud.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24