‘God van Chaos’ kom na Baxter
2010-09-23 10:11
Die Burger
Johannesburg - “Ek het lanklaas so sleg gelag.”
Só het ’n gereelde ondersteuner van die bekroonde regisseur Hennie van Greunen se werk ná ’n vertoning van God van Chaos in Bloemfontein gesê.
Dié stuk is van 19 tot 30 Oktober in die Baxter-teater op die planke.
“My tannie het altyd ons kinders gemaan met ‘van lekker lag kom lekker huil’ en God van Chaos werk ook so,” vertel Van Greunen ook bekend om treffers soos Die Naaimasjien en Shirley Valentyn.
“Die humor is so sterk dat ’n mens teen die einde van die toneelstuk effens ontsteld voel omdat ’n deel van jou so bekend is met die dubbele waardes wat op die verhoog uitgespeel word.”
Yasmina Reza se se Tony-bekroonde drama is onlangs in Engels in die Theatre on the Bay opgevoer, maar Van Greunen het die aktrise Trix Pienaar gevra om die oorspronklike Franse teks na Afrikaans te vertaal.
God van Chaos het vroeër vanjaar op die KKNK gedebuteer met Anna-Mart van der Merwe, Leon Kruger, Johann Nel en Martelize Kolver in die rolle.
Twee getroude paartjies “vergader’’ om ’n bakleiery tussen hul seuns deur te praat.
Die een het die ander se tand uitgeslaan, maar dit lyk nie of dit sommer as ’n ongeluk afgemaak gaan word nie.
Die gesprek begin hoflik en beskaafd, maar soos die humeure begin opvlam, word ’n onderliggende barbaarsheid oopgevlek wat al die partye ietwat onkant betrap.
God van Chaos was nog net op die KKNK en die Volksblad-fees te sien en is tans op die planke by die Innibosfees, maar Van Greunen sê namate die karakters soos ’n “tweede vel’’ begin sit, speel die akteurs al hoe meer met die fynere nuanses van die teks.
“Wat lekker is, is dat die set-up van die karakters en storielyn vir die gehoor so herkenbaar is.
“Wanneer dinge buite beheer raak, skaterlag hulle, maar die lag is getemper met ’n dieper herkenning van die werklikheid van die karakters en van die samelewing.”
En die lekkerste deel van die projek?
“Om die ongelooflike teks te doen met vier ervare spelers wat kollektief – show op show – ’n meesterklas in toneelspel aanbied.”