G'n stroperige liefdesliedjies vir die Skynmaagde
2012-06-11 12:31
Stellenbosch – Ek ontmoet die twee manne van Die Skynmaagde in ‘n kamer met twee rooi beddens bo die Dorpstraat Teater in Stellenbosch (dis deesdae op ‘n plaas en nie meer in Dorpstraat nie).
Toe ek in instap is Henry, oftewel Blackie Swan, een helfte van dié unieke nuwe duo, nog haastig besig om gereed te maak vir die vertoning. Wilken, oftewel Ewig Verwey, het gemaklik op die kant van ‘n bank stelling ingeneem. Iewers in 'n hoek van die kamer is 'n kat besig om 'n muis te jag (glo dit of nie).
Nie een van ons het tyd om te mors nie – die manne moet immers binnekort verhoog toe – so ons ignoreer kat se kind en ek skop sommer dadelik af met die kruisondervraging.
"So, wat presies is ‘n skynmaagd?"
Ewig verduidelik dat die woord gebruik word vir iemand wat voorgee om ‘n maagd te wees.
“Maar die groter betekenis is... groter...,” sê hy.
“Die groter betekenis is groter en die groter betekenis is wat?” vra Blackie. “Jy’t hierdie ding uitgedink, wat beteken dit?”
“Nee, ek weet nie. Basies sinspeel dit op... of nee, dit sinspeel nie, dis nogal duidelik, mense wat voorgee. Jy kan dalk ‘n skynkunstenaar wees of jy’s ‘n skynwerker, of ‘n skynpolitikus...”
“Dit kom ook daarop neer,” val Blackie hom in die rede, “dat ons heel in touch voel met almal in die wêreld, want almal is eintlik skynmaagde.”

Die Skynmaagde, wat die laaste paar maande heelwat belangstelling gelok het op die web, se lirieke is die soort waarna daar aandagtig geluister moet word. Maar ook nie té aandagtig nie... want die sensitiewes van aard mag dalk net geskok word.
“Ons skryf saam aan die lirieke en kom saam met idees op, maar sowat 70% van die lirieke kom van Blackie af,” sê Ewig. “Ons sit altyd saam en gooi ‘n klomp woorde in ‘n hoed.”
“Baie van die songs kom uit aande in pubs sit en kak praat,” sê Blackie. “En dan sal ek gewoonlik 'n bietjie daaraan torring en iets daarvan probeer maak.”
Oorspronklikheid is vir hulle uiters belangrik en Blackie sê hy skryf meestal oor onderwerpe wat vir hom "snaaks en oulik" is.
“As dit vir my snaaks en oulik is, hoop ek maar dis vir ander mense ook snaaks en oulik.”

Hulle hoop om eendag in Japan rond te toer en reken daar is reeds ‘n mark vir post-apokaliptiese Afrikaanse folk-grunge – ‘n genre waarvan net húlle in hierdie stadium deel is.
“Ons sien ons musiek as ‘n kuns,” sê Ewig ernstig. Blackie gee ‘n sarkatiese laggie en Ewig wil-wil glimlag.
Die hoofdoel van Die Skynmaagde, verduidelik Ewig verder, "is om soveel as moontlik mense te bereik. Ons wil soveel as moontlik gig en hoop mense byt daaraan en kom na ons shows toe.”
En die rede waarom mense na Die Skynmaagde se musiek moet luister? Omdat “’n nasie nie kan voortbeweeg wanneer hy vashaak op liefdesliedjies nie,” meen Ewig.
“En nog nie baie mense het dit besef nie. Ek sê nie ons is die enigstes wat daarvan bewus is nie, maar ons wend ‘n daadwerklike poging aan om nie liefdesliedjies te sing nie.”
Hulle het dus ook net een liefdesliedjie – en dié is heel bisar.
“Ons wil basies ‘n knuppel in die duiwehok gooi en kyk wat gebeur,” sê Blackie.

Hulle het glad nie die reaksie verwag wat hulle musiek tot dusver ontlok het nie, bieg Ewig.
“Maar miskien is die groot joke op ons,” spot hy.
Blackie sê die duo se musiek doen goed op Soundcloud en “dis ‘n riem onder die hart. Dit is lekker as jy dink jy het iets goeds beet en dan dink ander mense ook so." Boonop het groot name soos Anton Goosen en Koos Kombuis ook al van hulle talente kennis geneem.
“Daar is baie mense wat dit ook glad nie snap nie. Maar dis te verwagte. As jy iets obskuurs gaan doen, gaan daar mense wees wat dit nie verstaan nie.”
Die Afrikaanse musiekmark soos hy tans lyk, getuig van ‘n soort gesplete persoonlikheid, meen Blackie. Die Afrikaanse luisteraar het 'n keuse tussen hoofstroommusiek wat “'n mens soms kan mal maak” en die ander pool van die musiekmark, “waar daar wonderlike goed uitkom.”
Terwyl hy nog gesels, maak die arme muis wat ons vroeër gesien het onverwags sy verskyning. Ewig gee ‘n manlike gil en lig sy voete op die bank. Blackie gaan sonder om 'n oog te knip voort met sy verduideliking.
“So, ek dink ons is bietjie van ‘n grensgeval, ek dink nie ons pas êrens in nie.”
Ewig, wat steeds 'n bietjie ongemaklik is oor muis se teenwoordigheid, reken hulle probeer soos ‘n aar wees wat reg tussen die twee kante van die Afrikaanse musiekmark deurloop. En hulle spot met albei kante.
“Die lekker ding van spot is, niemand kan ooit vir jou sê jy’s verkeerd nie.”
Maar is die idee van post-apokaliptiese Afrikaanse folk-grunge nie 'n bietjie bisar nie, wonder ek hardop.
Dít is juis die punt, verduidelik Blackie.
“Soos ‘n kommunis-sokkie (een van hulle snitte). Dis die mees bisarre ding waaraan jy kan dink. En hoe op dees aarde merge jy folk en grunge? Dit kan nie gedoen word nie. So, dis vir ons die lekker ding daarvan.”
Dié idee kom ook sterk na vore wanneer ons oor die manne se karakters, Blackie Swan en Ewig Verwey, gesels.
"Blackie is ‘n komplekse karakter. Hy het baie selfvertroue en is eintlik baie mislik. Hy glo nie in enigiets nie, maar hy glo tog in alles.”
“Dit maak op geen vlak sin nie,” sê Ewig.
Nie dat Ewig veel sin maak nie...
“Ewig Verwey... uhm...” begin Ewig verduidelik. “is... bietjie histeries... paranoïes... uhm... narsissisties... maar ongelooflik liefdevol. Dit is presies wat hy is.”

Ter afsluiting wil ek weet of Ewig en Blackie so "nie-onskuldig" is soos wat hulle voorkom...
“So nie-onskuldig?” vra Blackie.
“Dis ‘n trippel negatief. Die taalratel,” sê Ewig. “Die nie-Skynmaagde nie.”
“Nie die nie-Skynmaagde nie,” sê Blackie.
“Dis nie dat ons Skynmaagde is nie,” sê Ewig.
“Dis nie dat ons nie nie-Skynmaagde is nie,” sê Blackie.
“Die moontlikheid dat ons wel kon wees,” sê Ewig.
“Ja, as ons sou wou,” sê Blackie.
“Maar ons wil nie. So ons is nie,” lag Ewig.
“Ja, beantwoord dit jou vraag?” vra Blackie.
Ja, dis alles kristalhelder, dink ek terwyl ek loer hoe die kat sy prooi treiter.
– Lees meer oor Die Skynmaagde en kry hulle musiek op hulle webtuiste en Facebook.
– Volg Marieke Snyman en Nuus24 op Twitter.