Gesteelde skildery ná twee jaar terugbesorg
2012-01-06 19:08
Brussel – ‘n Skildery deur die surrealistiese kunstenaar Rene Magritte wat twee jaar gelede gesteel is, is terug besorg deur die diewe nadat hulle glo nie ‘n koper kon kry nie, het die Rene-Magritte-museum Vrydag gesê.
Die werk, getiteld “Olympia”, waarop die kunstenaar se vrou naak is met ‘n groot skulp op haar maag, is in September 2009 deur twee gewapende mans by Magritte se huis gesteel.
Die huis is oop as ‘n museum vir mense wat ‘n afspraak maak.
Die skildery was in die tyd van die diefstal sowat €3 miljoen werd en kenners het gesê die olieverf-skildery, wat maklik herken sal word, sou moeilik verkoop.
Meer as twee jaar later het iemand ‘n kenner gekontak wat saam met die versekeringsmaatskappy werk en het aangebied om dit terug te besorg, het die museum se kurator, Andra Garitte, aan AFP gesê.
“Hulle het duidelik besef dat hulle dit nie sal kan verkoop nie, aangesien dit te bekend is,” het hy gesê.
“Dit het ‘n verleentheid geword en hulle het verkies om ontslae te raak daarvan. Hulle het dit gelukkig nie vernietig nie.”
Die museum het nog nie besluit waar om die skildery te hang nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP