Gesteelde kunswerke sál gevind word – Sahra
2012-11-13 13:46
Pretoria – Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) het gesê hy is vol vertroue dat die kunswerke wat Sondag uit die kunsmuseum in Pretoria gesteel is, gevind sal word, berig Eyewitness News.
Kunswerke van ondermeer J.H. Pierneef, Gerard Sekoto en Irma Stern is gesteel.
Regina Isaacs, woordvoerder van Sahra, het gesê die gesteelde skilderye is baie waardevol vir die land.
"Die kunswerke is deur ikoniese Suid-Afrikaanse kunstenaars geskilder. Hulle werke is gewoonlik 50 jaar en ouer."
Isaacs het gesê die sirkulasie van dié soort kunswerke word streng gereguleer en sodra die saak by Interpol geregistreer is, sal die kunswerke gevind word.
Die Pretoria-kunsmuseum is Maandag voorlopig gesluit ná gewapende rowers met skilderye ter waarde van R17,5 miljoen vort is.
Pieter de Necker, woordvoerder vir die burgemeester, het gesê die museum sal op 20 November heropen.
"Die kunsmuseum het voorkomende maatreëls ingestel deur ander waardevolle stukke te verwyder tot die polisie se ondersoek voltooi is," het hy gesê.
"Die stad sal veiligheidsmaatreëls by die museum verskerp."
De Necker het gesê vyf kunswerke is Sondag uit die museum se permanente versameling gesteel.
"Drie mans, wat voorgegee het dat hulle kunsstudente en 'n lektor was, het gevra om spesifieke skilderye te besigtig. Ná die skilderye aan hulle gewys is, het hulle die museum-beampte met 'n geweer gedreig en vasgebind, en hulle is vort met ses skilderye," het hy gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter