Gesoek: Sexy Italianer vir Amor
2010-05-30 08:07
Midrand - Die Italiaanse sokkerspan wat eersdaags in Suid-Afrika aankom vir die
Wêreldbeker-toernooi moet lig loop, waarsku die sexy sangeres Amor
Vittone.
“Ek is enkellopend. Ek kan nie wag om my hande op daai
sexy lywe te kry nie,” het sy Vrydagaand geskerts oor haar
toekoms
sonder die voormalige Bok-kaptein Joost van der Westhuizen.
En
Amor, self ’n half-Italianer, is nie heeltemal besig met dagdrome nie.
Daar is sprake dat sy by ’n paar van die komende sokkergesellighede kan
optree, hoewel niks nog bevestig is nie.
Amor het Joost onlangs
te midde van hul verbrokkelde huwelik gevra om uit hul huis te trek. Hy
het net sy klere gevat en kom nog gereeld huis toe om by hul twee
kinders te kuier.
Hoewel die tydskrif Huisgenoot eergister berig
het die paartjie is net vir twee tot drie maande tydelik van bed en
tafel geskei, sê Amor hul huwelik ís verby.
Joost is begin
verlede jaar in ’n skandaal gedompel toe ’n seksvideo aan die lig gekom
het waarin hy net in sy onderbroek met ’n ontkleedanseres verkeer en
ook dwelms gebruik.
“Jy kan nie net die hele tyd hartseer wees
nie. Jy kan nie net in die verlede ronddwaal nie. Jy gaan jouself siek
maak,” het Amor Vrydagaand openhartig aan Rapport gesê.
Sy was
seremoniemeester by ’n liefdadigheidsgeselligheid waar South Management
Consultants geld ingesamel het vir die Walter Sisulu Paediatric Centre
for Africa by die Sunninghill-hospitaal. Dié sentrum kyk na
minderbevoorregte babas wat wag op hartoperasies. Een operasie kos R160
000. Die sentrum het ’n waglys van 2 800 babas.
Amor het in
tipiese Italiaanse styl – uitgedos in ’n asemrowende roomkleurige
Fashion Studio-aandrok – die rykes betower en hulle aangemoedig om geld
te gee.
Sy het net minder as R500 000 ingesamel.
Oor haar
huwelik sê Amor:
“In die lewe kom baie mense oor jou pad.
Verlede jaar het my pad met mense gekruis wat ek te maklik vertrou het.
Ek het uit my foute geleer.
“Joost is ’n wonderlike pa vir my
kinders. Maar ek kon nie met die leuens saamleef nie.
“My fokus
het verander van vure doodslaan na my kinders. My kinders is waarvoor ek
leef. Maar ek dink ook nou aan myself.
“Ek gaan nou meer uit
waar ek vroeër as kluisenaar geleef het. Toe ek Woensdagaand die fliek
Sex and the City 2 gekyk het, het die trane gerol. Ek kon identifiseer
met die karakters.”
Amor het gemengde lojaliteite wanneer dit kom
by watter span sy in WB 2010 gaan ondersteun.
“As
Suid-Afrikaner wil ek Bafana Bafana ondersteun, maar ek is ook half
Italiaans.
“As ek egter geld op ’n wenspan moes sit, sou dit
beslis Italië wees. Hulle kan nie net goed speel nie, maar lyk ook hot
op die veld.”
Joost het nie gereageer op Rapport se versoeke om
kommentaar oor sy huweliksprobleme nie.
- Rapport