Gervais: Twitter vir kinders
2010-01-15 16:59
London – Die Britse komediant Ricky Gervais het Vrydag gesê dat, alhoewel Twitter pret is vir tieners, hy nie dink dit is vir volwassenes bedoel nie.
Hy het ook bekendes wat van die sosiale netwerk gebruik maak se motiewe bevraagteken.
Gervais, wat Sondag gasspreker by die Golden Globes-seremonie gaan wees, het gesê hy het opgehou om Twitter te gebruik.
“Ek is seker dit is baie pret vir tieners, maar ek kan nie sien dat volwassenes dit gebruik nie,” het hy op sy blog geskryf.
Met betrekking tot die naweek se seremonie het hy gesê hy neem aan Twitter was een van die maniere om die Golden Globes te bemark.
“My Tweeting het soos ‘n poniekoerant geword. Ek kon nie eens belangrike nuus daarop plaas nie.”
Gervais het bekendheid verwerf as medeskrywer van die Britse televisiereeks The Office. Dié reeks het hom in 2004 ‘n Golden Globe-toekenning besorg. Hy het pas sy eerste rolprent as regisseur, The Invention of Lying, bekendgestel.
- AFP