George Michael in hegtenis vir dagga, dronkbestuur
2010-08-13 02:37
Londen - Die popsanger George Michael word aangekla van die besit van dagga en ongeskiktheid om te bestuur nadat hy na bewering verlede maand met sy motor in ‘n fotografie-winkel in gery het, het die polisie Donderdag gesê.
Michael is op borgtog vrygelaat en moet weer op 24 Augustus voor landdroste in Londen verskyn.
Hy is vroeër in hegtenis geneem ná die voorval in die rykmansgebied Hampstead, noord van Londen. Hy woon in die gebied.
Die Londense Metro-polisie het bevestig hy word aangekla, in ‘n verklaring wat na sy regte naam verwys.
“Georgios Panayiotou, 47, is in hegtenis geneem vir die besit van dagga en bestuur terwyl ongeskik om dit te doen, deur drank of deur dwelms.”
- Sapa - AFP