Gemengde gevoelens oor nuwe Gaga-album
2011-05-23 13:38
Los Angeles - Die omstrede popster Lady Gaga stel hierdie week haar tweede vollengte album bekend – maar kritici het gemengde gevoelens oor dié nuwe projek.
Uittreksels van die 25-jarige sangeres se nuwe album, Born this Way, sal eers op die aanlyn-speletjie Farmville gehoor kan word, waarna dit Maandag amptelik vrygestel sal word.
Die titelsnit is reeds in Februarie uitgereik, kort voor Gaga (haar regte naam is Stefani Joanne Angelina Germanotta) die wenkbroue laat lig het toe sy in 'n deurskynende eier by die jaarlikse Grammy-toekennings opgedaag het.
"Ek wil Born This Way op 'n spesiale wyse vier en deel met my monsters op 'n manier wat nog nie voorheen gebruik is nie," het Gaga gesê oor haar unieke plan om snitte van die album op die speletjie Farmville bekend te stel. Gaga het 'n plaas genaamd "GagaVille" in dié gewilde aanlyn-speletjie. Sy het ook miljoene volgelinge op sosiale netwerke soos Twitter en Facebook.
Gaga noem haar Twitter-volgers 'monsters.'
Sy het al 15 miljoen albums en 51 miljoen enkelsnitte wêreldwyd verkoop.
Kritici se reaksie op haar nuwe album is egter nie deur die bank positief nie.
Brittanje se Guardian het die album vier uit vyf sterre gegee, en gesê Gaga is "die mees opwindende en verrassendste" kunstenaar in die popwêreld.
Entertainment Weekly was egter nie so gaaf nie, en het na die album verwys as 'n "wisselende brousel yskoue techno-pop" wat "meer van 'n produksiewonder as 'n liedjieskryf-wonder" is.
Die LA Times het geskryf: "As Gaga net soveel tyd wou spandeer op die afbreek van musiekgrense as wat sy spandeer op die afbreek van sosiale grense, sou Born This Way baie meer suksesvol wees.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP