Gelukwense stroom in vir William en Kate
2012-12-04 18:03
Londen – Gelukwense het ingestroom vir die hertog en hertogin van Cambridge nadat daar aangekondig is dat Prins William se vrou, Kate, swanger is.
Koningin Elizabeth II, haar man, Prins Phillip, Prins Charles, vir wie dit ‘n eerste kleinkind sal wees, en sy vrou Camilla is almal verheug oor die nuus, het die paleis in ‘n verklaring gesê.
Kate se ouers, Carole and Michael Middleton, is glo net so opgewonde oor die swangerskap.
Prins Harry, die jonger broer van prins William, is via e-pos in kennis gestel. Harry is tans in Afganistan as ‘n helikopter-vlieënier ontplooi.
Die verklaring van die paleis sê die paartjie het glo eers onlangs uitgevind van die swangerskap, alhoewel daar al lank in die media daaroor bespiegel is.
Kate is steeds in die hospitaal met erge oggendnaarheid.
Premier David Cameron het gesê William en Kate sal wonderlike ouers wees.
Barack Obama, president van Amerika, en sy vrou Michelle, wat William en Kate verlede jaar tydens ‘n besoek aan Brittanje intmoet het, het ook hul gelukwense vir die paartjie gestuur.
Julia Gillard, Australië se premier, het gesê dat die nuus baie vreugde regoor die wêreld sal bring terwyl John Key, premier van Nieu-Seeland, die aankondiging as "fantasties" beskryf het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP