‘Gelukkiger as ooit,’ sê Joost oor sy huwelik
2010-03-29 06:38
Kaapstad - “Ek en Amor is gelukkiger as ooit en ons lewe is piekfyn.”
So het die oud-Springbokkaptein Joost van der Westhuizen Sondag gesê, ses maande nadat hy in die openbaar erken het hy was betrokke by ’n omstrede video waarin hy en ’n kaaldanseres van Pretoria halfnaak verskyn en gesien word hoe hy dwelms snuif.
Ná sy bekentenis is wyd bespiegel dat sy huwelik met die sangeres Amor Vittone dié video-skandaal nie sou oorleef nie.
Die egpaar is egter sedertdien gereeld saam in die openbaar gesien en lyk deurentyd gelukkig. Hulle is selfs onlangs in Argentinië saam afgeneem.
Gister het Van der Westhuizen gesê hul huwelik staan “rotsvas”.
“Ons het die lelike dinge van die verlede gelaat presies waar dit hoort – agter ons. Ons het aan ons huwelik gewerk en vandag kan ek vir jou sê dat ons huwelik sterker is as ooit.
“Ek het met die video-debakel ’n keuse gehad. Ek kon die negatiwiteit die oorhand laat kry, of ek kon die negatiewe in iets positiefs omskep. Ek het laasgenoemde uitweg gekies.
“Mense vergeet soms dat die betrokke skelmvideo nie verlede jaar gemaak is nie, maar drie, vier jaar gelede al. Toe al het ek besluit dat ek my lewe in orde moet kry. En ek het my lewe in orde gekry.
“Nog iets wat mense dalk nie geweet het nie, is dat ek my nie so maklik deur ’n klomp st***t laat onderkry nie. Ja, ek het gefouteer en ja, ek het om verskoning gevra, maar dit beteken nie dat ek bly lê het nie.
“Die uitdaging was om die negatiewe van die video en ander skinderstories in die positiewe hantering daarvan om te skep.
“Die uiteinde is nou dat ek en Amor baie gelukkig is, dankie. Ons private lewe het verder niks met iemand uit te waai nie.”
Hy is weens die video sy pos as aanbieder en ontleder van rugby by SuperSport kwyt, maar ook dít het hom nie op sy knieë gedwing nie.
“Al wat mense hoef te weet, is dat ek werk. Ek werk vir iemand en ek werk vir myself. En ek is baie gelukkig met wat ek doen. Dit is genoeg inligting.”
Oor die foto hiernaas wat die naweek by ’n vertoning van die Moskou-sirkus by Carnival City in Brakpan geneem is, het hy gesê hy en Amor het besluit om hul twee kinders te gaan trakteer.
Hy het gesê hy praat eintlik glad nie meer met die media oor sy private lewe nie, want “soos gewoonlik gaan mense weer ’n stertjie aanlas en sê ons soek publisiteit”.
- Die Burger