Geen porno op TopTV toegelaat, sê hof
2012-01-16 12:37
Johannesburg – Die hooggeregshof in Johannesburg het Maandag beslis dat TopTV nie pornografiese kanale mag uitsaai sonder die toestemming van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Icasa) nie.
Dié betaalkanaal het in September by Icasa aansoek gedoen vir toestemming om drie pornografiese kanale uit te saai.
Toe TopTV na twee maande geen antwoord ontvang het nie, het hulle besluit om voort te gaan sonder Icasa se besluit.
Icasa het 'n dringende aansoek voor die hooggeregshof gebring en gevra dat die aangeleentheid tot 31 Januarie uitgestel moet word, wanneer hulle 'n finale antwoord sou hê.
Michael Motsoeneng, Icasa se prokureur, wou nie Maandag kommentaar lewer oor die interdik nie en het alle vrae na Icasa verwys.
TopTV word deur On Digital Media besit.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA