Geen meer sekstonele vir Jhb-akteur
2012-09-14 11:04
Pretoria – 'n Deeltydse Johannesburgse akteur sal nie meer vereis word om in enige sekstonele te verskyn in 'n rolprent waaraan hy werk nie, hoewel die hooggeregshof in Pretoria hom Donderdag beveel het om weer na die stel terug te keer.
Lushen Naidoo, 'n finansiële ontleder en deeltydse akteur, is verlede maand deur regter Ferdi Preller beveel om voort te gaan met die verfilming van die rolprent And Now? op die voorwaarde dat die film se regisseur, Natalie Raphil, hom die manuskrip en skedule vir verfilming vooraf moet gee.
Naidoo het die hof egter Woensdag om verlof tot appèl teen die beslissing gevra, en gesê die sekstonele beïnvloed sy fisieke en geestestoestand, veral omdat hy nie 'n professionele akteur is nie.
Hy het ook gekla dat die skedule met sy werk inmeng en sy verhouding met sy vriendin beïnvloed.
"Die aantal sekstonele is meer as 50... Die aantal tonele wat oorgeskiet moet word vereis 'n vlak van verrigting wat nie vir my moontlik is nie," het hy in 'n beëdigde verklaring gesê.
Naidoo sê die regisseurs het aanvanklik gesê die rolprent se verfilmingskedule sou korter wees as dié van Raphil se eerste rolprent, Behind 2010, waarin Naidoo die hoofakteur was.
Dit is egter twee jaar later en die prent is nog nie voltooi nie, het hy gesê.
Raphil het Preller gevra om Naidoo te dwing om die vorige hofbevel na te kom, ten spyte van sy appèlaansoek.
Raphil het aangevoer dit sal rampspoedig wees as Naidoo onttrek, omdat driekwart van die film voltooi is en R8 miljoen van die begroting van R11 miljoen reeds spandeer is.
Preller het Naidoo Donderdag beveel om aan te werk, hangende die uitkoms van sy appèl en op voorwaarde dat dit nie met sy voltydse werk as 'n ontleder inmeng nie.
Ander voorwaardes het ingesluit dat daar nie van hom verwag sal word om enige tonele te verfilm waar hy naak van voor afgeneem word nie. Hy hoef ook nie in sekstonele te verskyn nie.
Preller het dit duidelik gestel dat Naidoo se betrokkenheid by die rolprent op 30 November tot 'n einde sal kom. Hy moet nog in 15 tonele verskyn.
Raphil is beveel om twee dae voor die tyd die manuskrip aan Naidoo te gee en hom R3 000 'n maand te betaal vir sy dienste. Sy moet ook al sy ander uitgawes, soos akkomodasie, reis, voedsel en aktiwiteite betaal.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA