Geboelie? Charlize praat sommer bollie!
2011-12-11 07:00
Johannesburg – Die aktrise Charlize Theron is ’n liegbek en oordryf wanneer sy sê sy is op skool geboelie.
So beweer ’n oud-skoolmaat van Theron, Karlien Breytenbach (39).
Theron het onlangs aan ’n Amerikaanse tydskrif gesê sy was ’n bleeksiel op skool, seuns het nie in haar belanggestel nie en sy is gereeld geboelie.
Maar Breytenbach het die afgelope week gesê Theron praat bollie oor die “geboeliery”.
“Sy is nog nooit geboelie nie. Sy is die een wat die ander kinders afgeknou het.”
Breytenbach se suster, Anita, sê sy was self ’n slagoffer van Theron se geboelie.
“Op my eerste dag by die skool het Charlize die stoel onder my uitgetrek toe ek wil gaan sit.
“Toe val ek op my sitvlak.
“As jy nie in Charlize se vriendekring is nie, word jy omtrent geboelie,” sê Anita, wat op ’n plaas buite Barkly-Oos woon.
Sy en Breytenbach sê die ander leerlinge wat saam in die Laerskool Putfontein in Benoni was, sal dit kan bevestig.
“Dit maak my die hel in wanneer Charlize sulke k*k kwytraak,” sê Breytenbach, wat aan die Oos-Rand woon.
Sy was in st. 3 toe Theron en haar jonger suster in st. 1 was.
“Toe sy die Oscar wen, het sy gesê sy kom van ’n plaas in Afrika.
“Dis snert, man. Sy’s ’n plotkind. Net soos ek ook van ’n plot af kom.
“Ek is nie skaam om te sê ek kom van die plotte af nie, maar vir haar is dit mos ’n issue.”
Theron is die laaste paar weke besig met promosiewerk vir haar nuwe rolprent, Young Adult.
Breytenbach was erg gegrief toe sy te hore kom van Theron se uitlatings aan die media oor haar skooljare. “Sy is die een wat die kinders geboelie het. En sy het geweet hoe om mense te manipuleer.”
Breytenbach onthou die dag toe Theron nie as prefek gekies is nie.
“Daar was nou vir jou drama! Die volgende oggend was sy en haar ouers in die skoolhoof se kantoor.
“’n Dag daarna was sy ’n prefek. Sy het die skoolhoof om haar pinkie gedraai.”
Breytenbach sê ook Theron se storie aan die media dat sy arm grootgeword het, is bogpraatjies.
“Waar die ander kinders op die meeste 20c sakgeld ’n dag gekry het, het Theron elke dag R20 skool toe gebring.”
Theron kon ’n allemintige vloermoer gooi as sy nie haar sin gekry het nie, vertel die skoolmaat.
“Het sy dan ook nie só bekendheid in Hollywood verwerf deur daardie vloermoer in die bank nie?
“Sy is oneerlik met die wêreld.”
Breytenbach spaar ook nie Theron se ma nie.
“Gerda het nie mense gegroet nie. My ma was by die haarsalon. Toe loop Gerda daar in. Toe my ma haar groet, het sy haar net aangegluur.”
Ná Putfontein het Theron die res van haar skoolloopbaan aan die Nasionale Kunsteskool in Johannesburg voltooi.
“Nie almal van ons is haar aanhangers nie. Ek is nie kleinlik óf jaloers nie. Sy moet net ophou lieg.”
Theron se woordvoerders in Los Angeles het met druktyd nog nie op Rapport se navrae gereageer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport