Gareth Cliff sê nié Moslems sleg
2013-02-05 12:11
Johannesburg – Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het die radio-omroeper Gareth Cliff onskuldig bevind aan ‘n klagte dat hy afbrekende aanmerkings oor Moslems tydens sy radioprogram gemaak het, het The Star Dinsdag berig.
Die UKKSA het verlede jaar in September ‘n klag ontvang van Zaheer Ismail oor aanmerkings wat Cliff gemaak het oor ‘n selfmoordbomaanval in Kaboel, Afganistan, wat die lewe van agt Suid-Afrikaners geëis het.
Ismail het beweer dat Cliff se kommentaar neerhalend teenoor Moslems was.
“Daar is niks goeds in Afganistan nie, daar is ook nie gesonde verstand nie. Westerlinge moet dié 13de eeuse barbare los om hulself op te blaas,” het Cliff volgens Ismail tydens die program gesê.
Die UKKSA se Kim Erentzen het aan The Star gesê dat die kommissie bevind het dat Cliff se kommentaar nie die Uitsaaikode oortree het nie.
Rina Broomberg, Cliff se skakelbeampte, het gesê Cliff het nie na Moslems verwys nie, en dat Ismail hom buite konteks aangehaal het.
“Moslems is nie genoem nie. Hy het baie opinies, waarop ons almal geregtig is.”
Sy het bygevoeg dat Cliff net die gedrag van selfmoordbomaanvallers veroordeel het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA