Freek verruil RSG vir e.tv nuus
2010-06-03 06:47
Die Burger
Johannesburg – RSG het drie van sy omroepers verloor, onder wie een van sy vryskut-omroepers, die gesoute nuusman Freek Robinson.
Amanda Olivier, RSG-woordvoerder, het gister gesê Robinson, LiMari Louw en JP Keyter, drie van RSG se “beste” omroepers, sal hulle in Julie by e.tv se nuwe Afrikaanse nuusdiens aansluit.
Dié nuus sal op kykNET uitgesaai word.
Robinson, wat Robinson Regstreeks reeds op kykNET aanbied, het gister gesê: “Ons (hy en e.tv) is besig met onderhandelings wat nog gefinaliseer moet word.”
Louw, wat ’n pos as nuusleser gekry het, het gistermiddag gesê dit is ’n kleintyd-droom wat waar geword het.
“Ek is een van daai vreemde mense wat buite myself van opgewondenheid raak as die nuusberig voor my lê,” het sy gesê.
“En dan maak ons boonop geskiedenis met die eerste onafhanklike nuusbulletin in Afrikaans.
Magdaleen Krüger, RSG-stasiebestuurder, het gesê die stasie is jammer om die drie te verloor, maar is ook trots dat die ervaring wat hulle by RSG opgedoen het hulle in staat kon stel om aan te beweeg na ’n loopbaan in TV-nuus.
“Daar is min geleenthede in die Suid-Afrikaanse elektroniese media vir Afrikaanse joernaliste, nuusskrywers en aanbieders.”
- Die Burger