Fotograaf aangerand, bekendes moet dalk opdok
2012-03-27 12:09
Los Angeles – Die akteur Brian Austin Green word daarvan aangekla dat hy ‘n steelfotograaf aangerand het, terwyl sy vrou, Megan Fox, hom aangehits het.
Die voormalige Beverly Hills 90210-akteur en Fox, wat bekend is vir haar rol in Transformers, is deur die steelfotograaf Delbert Shaw by die Four Seasons-oord in Hawaii afgeneem terwyl hulle in Desember daar vakansie gehou het.
Volgens die skinderwebwerf TMZ beweer Shaw hulle was so ontstoke oor die voorval dat Green hom geslaan het, nadat Fox vir Green aangemoedig het.
Shaw beweer Fox het, ná sy gesien het hy neem foto’s, geskree: “Gaan jy hom daarmee laat wegkom?”
Hy beweer Green het hom begin slaan en toe sy iPhone in die see gegooi.
Shaw dagvaar die paartjie vir skadevergoeding.
Fox en Green het by die Four Seasons-oord in Hawaii getrou, en gaan hou gereeld daar vakansie saam met sy negejarige seun, Kassius.
– Volg Nuus24 op Twitter
- BangShowBiz