Fliekteater verban Disney se ‘Alice’
2010-02-23 14:03
Londen – Die rolprentgroep Odeon het aangekondig dat hulle Disney se nuwe 3D-fliek Alice In Wonderland by rolprentteaters in Brittanje, Ierland en Italië gaan boikot aangesien die DVD moontlik vroeër vrygestel gaan word.
Odeon is Brittanje se grootste bioskoop-ketting met meer as 100 teaters.
Die maatskappy het Maandag besluit om die fliek te boikot nadat Disney gesê het hulle gaan die Tim Burton-fantasie 12 weke ná die debuut op die grootskerm op DVD vrystel, in plaas van die gewone 17 weke.
Rolprentmaatskappye in Nederland het vroeër dié maand ook besluit om nie die fliek, waarin Johnny Depp, Anne Hathaway en Helena Bonham Carter speel, te wys nie.
Volgens Odeon en UCI rolprentgroepe belê hulle baie geld in tegnologie om 3D-films te kan wys, wat Disney moontlik ondermyn.
Volgens Odeon kan die vroeë vrystelling van die DVD tot ‘n toename in leë sitplekke in die fliekteaters lei.
- AFP