Flieks op Dbn-fees wys lewenskragtigheid
2011-08-03 08:29
Die besonderse reikwydte van die internasionale rolprentfees in Durban (DIFF) en die opbloei van die plaaslike bedryf kan geïllustreer word deur twee prente deur nuwelingregisseurs wat daar vertoon is.
Om geld te spaar het Shaldon Ferris sy skoonma in sy prent Eldorado geplaas. Tussendeur het me. Ferris ook vir die honger “rolverdeling” – almal inwoners van Eldorado Park wat nog nooit voorheen toneel gespeel het nie – kos berei. Dié digitale prent is deur die inwoners van Eldorado Park geskiet én vervaardig.
Hierdie township van hoofsaaklik bruin mense suidwes van Johannesburg is een van die armste town- ships in Suid-Afrika. In ’n gebalde vuis word ’n daaglikse lewe van armoede, dwelms en bendebedrywighede vasgevat.
Dit speel in die mooiste, ongewone Afrikaans vir die silwerdoek af en volg vier vriende se grootwordjare en toenemende betrokkenheid by misdaad.
Een van die gehoorlede het tydens die vraesessie gesê: “Waar is die hoop?”
Waarop Lorreal Ferris geantwoord het: “Die feit dat ons hier staan met ons prent is die hoop.”
Die prent, wat met bloedsweet in sowat tien dae geskiet is, het Sondag ’n spesiale vermelding van die internasionale jurie ontvang.
Die Johannesburgse skrywer-regisseur Charlie Vundla se debuutprent, How to Steal 2 Million, tref jou van die eerste raampie. Dit is rats, sjiek, dramaties en beeld die polsslag van Johannesburg uit; sonder ’n greintjie visuele geyktheid.
Vundla huldig die beste van Amerikaanse badass-prente, maar maak dit eg-Suid-Afrikaans. Dit speel in Afrikaans, Engels en Zoeloe af en is ruimskoots deur die nasionale rolprent-en-videostigting ondersteun.
Dié prent begin op 2 September landwyd draai en is reeds aan 35 lande verkoop. Vundla is reeds flink aan die werskaf aan sy volgende prent en nee, het hy met ’n groot glimlag gesê, moet nie nét badass-prente van hom verwag nie.
Vanjaar was 55 van die 193 rolprente op die fees Suid-Afrikaans.
Dis die meeste tot nog toe.
“Die jong rolprentmakers máák hul prente,” sê Nashen Moodley, feesbestuurder van die DIFF. “Niemand wag meer vir groot bedrae geld om in hul skoot te val nie.”
Die plaaslike aanbod was so groot en goed “dat daar ’n paar baie moeilike besluite geneem moes word”.
Die regisseur Sara Blecher, wie se aangrypende prent Otelo Burning die fees geopen het, meen die ineenstorting van die SAUK het baie kreatiewe mense gedwing om hul eie stories na die silwerdoek te bring.
Otelo Burning is oor sewe jaar ontwikkel terwyl sy ander goed gedoen het om die pot aan die kook te hou. “Wat ons nou begin sien, is rolprente oor ons, vir ons. Die prente hoef nie groot daarbuite te wees nie, solank dit eers hier in Suid-Afrika resoneer – in elke land was juis die fokus op ’n inheemse gehoor die begin van die sogenaamde new wave.”
Otelo Burning begin op 30 Desember in Suid-Afrika draai.
Al die feesvertonings van die plaaslike prente was uitverkoop, het Moodley benadruk.
“Die gehore vir die plaaslike prent is daar; die verskeidenheid in aanbod is ook daar.”
Die uitgebreide fees, ’n ondersteuningsbron vir die plaaslike bedryf én die bedryf in Afrika, het sy vierde “talentkampus” aangebied. Altesame 48 jong rolprentmakers van 16 Afrikalande het ’n vol program deurgedraf. Dit is in samewerking met die Berlynse rolprentfees se talentkampus aangebied.
Een van die meesterklasse is deur die vermaarde Afrika-rolprentmaker Gaston Kaboré aangebied. Die gebrek aan “ware visuele uitbeelding van die leefwêreld in Afrika en om hoop aan die jeug te gee om hul eie stories te vertel” het hom genoop om die Imagine-rolprentinstituut in Burkina Faso te stig, het hy vertel.
In die agtjarige bestaan van sy rolprentskool is 757 rolprentmakers opgelei – een van hulle is Suid-Afrika se Norman Maake.
Die tweede rolprentmark, die Durban Filmmart, het 300 rolprentlui van Afrika en die wêreld getrek. Dié mark, wat vier dae duur, dien om nuwe rolprentprojekte aan verskeie rolspelers in die bedryf bekend te stel. Die program sluit ook meesterklasse en slypskole deur internasionale kenners en forums in. Sewe kontantpryse vir nuwe projekte is uitgedeel. Altesame 126 projekte is voorgelê, waarvan 20 – tien dokkies en tien vollengte rolprente – gekies is vanweë hul lewensvatbaarheid.
Met al die bedrywighede om en óór rolprente was dit moeilik om by veral die internasionale rolprente uit te kom.
’n Fliekvlooi kan hom of haar dus laataand in ’n dubbelknoop van inspanning rakende keuses begeef – oor ’n spyskaart van 153 rolprente, prente waarvan die meeste nié die kringloop in Suid-Afrika gaan haal nie. Hoe kies ’n mens tussen die Hongaarse rolprentmaker Bela Tarr se jongste, The Turin Horse, wat in net 30 skote verfilm is, die Duitse rolprentmaker Tom Tykwer se romantiese komedie Drei, wat seksuele konvensies uitdaag, en die Koreaanse rolprentmaker Jo Sung-Hee se gruwelprent End of Animal?
Suid-Afrika se oudste rolprentfees is gewis ’n verjongingskuur vir die gees.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld