Fliek kom dalk oor meisie en haar Lady
2009-09-22 07:06
Charles Smith
Johannesburg - ’n Hollywood-ateljee wil dalk ’n fliek maak van ’n Vrystaatse meisie en haar blinde perd se onwrikbare vertroue in mekaar.
Die rolprentreus Warner Bros. en sy plaaslike agent, Film Africa, onderhandel vir die regte om die verhaal van Chelsey Cooper (14) en haar perd, Lady Domain, te verfilm.
Chelsey, ’n leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, het drie Suid-Afrikaanse saalperdkampioenskaptitels met Lady Domain ingepalm nadat dié blind geword het.
Die blonde meisie het geweier dat haar perd ná ’n ongeluk van kant gemaak word. Hulle het voorheen saam die nasionale driegangtitels in die o.12- en o.18-klasse én vir perde van 15,1 hand hoog ingepalm.
Met ysere wilskrag het sy die merrie geleer om 100% op haar te vertrou en só haar oë geword. Chelsey het Lady die selfvertroue gegee om steeds ’n kampioen te wees, al is die wêreld donker. “Ons het hulle toe oë geklop, Lady!” het Chelsey aan haar perd gesê nadat hulle die Suid-Afrikaanse driegangkampioenskap vir haar ouderdom in 2008 ingepalm het.
Net ’n handjievol mense het geweet Lady is heeltemal blind. Die beoordelaars het dit nie geweet nie. ’n Perd wat blind is mag nie deelneem nie. Veeartse wat gedink het sy het effens sig in haar linkeroog was die skuiwergat om haar in te skryf.
Lady Domain is volgens Chelsey se ma, Anneli Cooper, die enigste gestremde perd in die wêreld teen normale perde ’n nasionale titel kon wen.
Lady Domain (wat pas 10 geword het) mag nie meer aan kampioenskappe deelneem nie, maar sy en Chelsey tree op om mense te inspireer.
Lady sal haarself in die rolprent speel. Die werktitel is Through my eyes, hoewel Blind faith en Never say never ook oorweeg word.
- Beeld