Finaliste vir Booker-prys aangekondig
2013-01-25 13:50
Jaipur – Die Amerikaanse skrywer Marilynne Robinson, Israel se Aharon Appelfield en China se Yan Lianke is onder die 10 finaliste vir die Man Booker Internasionale Prys vir fiksie.
Die toekenning word gegee vir ‘n leeftyd se werk. Dit is oop aan skrywers van alle nasionaliteite wie se werk in Engels beskikbaar is.
Organiseerders van die prys sê beide China se Yan en Rusland se finalis, Vladimir Sorokin, het boeke geskryf wat in hul tuislande verban is.
Yan het in die moeilikheid beland by beamptes oor Dream of Ding Village, wat handel oor die vigs-krisis. To Serve the People het hom ook in die sop laat beland met ‘n karakter wat slegs geprikkel kan word wanneer sy minnaar beelde van Voorsitter Mao stukkend slaan.
Sorokin, wat bekendheid verwerf het vir The Ice Trilogy, se vroeëre boeke is ook verban.
Ander finaliste wat Donderdag by die Jaipur Literatuur-fees in Indië bekendgemaak is, is Lydia Davis van die VSA, Pakistan se Intizar Hussain, Frankryk se Marie NDiaye en die Indiese skrywer UR Ananthamurthy.
Josip Novakovich, ‘n Kanadese skrywer wat in Kroasië gebore is, en Switserland se Peter Stamm, het ook die lys gehaal.
Christopher Ricks, ‘n akademikus wat voorsitter van die span beoordelaars is, sê die 10 is “baie verskillende” skrywers wat wissel in ouderdom van hul 40’s tot hul 80’s.
Vorige wenners van die toekenning sluit in Kanada se Alice Munro, Nigerië se Chinua Achebe en Philip Roth van die VSA.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA