Fiëstas gaan Staatsteater toe
2013-02-11 11:48
Kaapstad – Die derde jaarlikse kykNET Fiëstas, wat die beste Afrikaanse kunstenaars en teaterproduksies vereer wat in 2012 hul debuut gemaak het, word vanjaar die eerste keer in die Staatsteater in Pretoria aangebied.
“Vanjaar se kykNET Fiëstas gaan ’n affêre wees wat lank onthou sal word,” het Karen Meiring, kanaalhoof van kykNET, in 'n verklaring gesê.
“Met Ian von Memerty in die regissseurstoel, en die Staatsteater as tuiste vir dié swierige aangeleentheid, sien ons uit na ’n aand waarop daar op ’n gepaste manier hulde aan die land se uitstaande Afrikaanse produksies en talent gebring word.”
Verlede jaar se groot wenners was die produksies Rooiland en Lot wat elkeen met sewe Fiëstas weggestap het, onderskeidelik vir die beste nuwe Afrikaanse produksie en die beste produksie.
Mimi Coertze, die wêreldberoemde sopraan, is ook vir haar lewenslange bydrae tot musiek vereer.
Die benoemings vir die toekennings sal op 25 Februarie om 19:30 op kykNET bekendgemaak word.
Dié Fiëstas word op 21 Maart oorhandig.
Kaartjies vir die spoggeleentheid sal by Computicket beskikbaar wees.
Besoek kykNET ook op Facebook vir meer inligting.
– Volg Nuus24 op Twitter