Feetjiesoene, jongste deelnemer en aanneming in ‘Idols’
2010-08-01 07:16
Kaapstad - Lipstiffie op Randall Abrahams se kop en Mara Louw wat ’n deelnemer wil aanneem…
Dís enkele van die verrassings wat Sondagaand op kykers wag wat om 17:30 op M-Net inskakel om Idols te kyk.
Boonop maak die jongste deelnemer tot nog toe haar verskyning met ’n liedjie van Juanita du Plessis.
Hoewel voornemende deelnemers tussen 16 en 30 jaar oud moet wees, het die 10-jarige Chante Janse van Rensburg spesiale toestemming gekry om ook haar slag te kom wys.
Toe die vervaardigers Chante se verhaal hoor, het hulle ’n uitsondering gemaak. Sy het by haar skool se kooroefening geval en haar kop teen die klavier gestamp. Sy het vier skeure in haar brein opgedoen waardeur vloeistof nou lek en net spesialis-chirurgie kan haar toestand verbeter. Dit was nog altyd haar groot droom om aan Idols deel te neem. Chante kry nou Sondagaand die geleentheid om die beoordelaars, onder wie die gasbeoordelaar Kahn Morbee van The Parlotones, met haar sang te beïndruk.
Chante was net een van die amper 2 000 aspirant-sangers wat by die Johannesburg-oudisies opgedaag het.
Of sy een van die 27 goue kaartjies na die volgende nasionale teaterronde gekry het, is nog ’n geheim.
Die beoordelaar Randall Abrahams moet op sy beurt ’n aanslag van die skoner geslag afweer as ’n “feëprinses” hom wil soen… en dit ook regkry!
Dié hardekwas-beoordelaar, wat met pienk lipstiffie op sy voorkop gelos word, se hart versag sommer teenoor Lizette Willemse as sy daarna moet sing.
Diegene wat nog altyd gedink het Mara is ’n moeilike vrou, sien Sondagaand haar sagte kant.
Nie net gee sy die 22-jarige Freddie Moss geld om ná die oudisie vir hom kos te koop nie, maar sy erken ook sy sou hom graag wou aanneem, as sy net kon.
Die eksentrieke Moss woon in ’n vriend se sitkamer en leef daarvoor om kitaar te speel.
Volgende week kom die Port Elizabeth- en Bloemfontein-oudisies aan die beurt.
Volgens Ingrid Engelbrecht van M-Net was Idols nog nooit vantevore in Bloemfontein nie, terwyl Port Elizabeth ook ’n paar rondes lank nie besoek is nie.
“Daar wag dus beslis interessante kykmateriaal uit dié twee stede,” beloof sy.
- Rapport