Elton John vrees seun se moeilike kinderjare
2012-08-21 10:31
Londen – Elton John glo sy seun, Zachary, se kinderjare gaan "baie moeilik" wees omdat hy gaan sukkel met homofobie en die impak van sy pa se roem, het die sanger gesê.
Die 65-jarige Britse ster en sy Kanadese man, David Furnish, het op 25 Desember 2010 ouers geword nadat 'n surrogaatma die lewe geskenk het aan Zachary.
Die sanger-liedjieskrywer het in 'n onderhoud met die weeklikse Britse tydskrif Radio Times gesê hy berei hom voor vir sy seun se moeilike kinderjare wat voorlê.
"By die skool gaan die ander kinders sê 'jy het nie 'n man nie'," het John gesê.
"Ons kom 'n lang pad, maar daar is steeds homofobie en daar sal wees tot 'n nuwe generasie van ouers dit nie in hul kinders aanwakker nie."
Hy het verder gesê die manier waarop hulle hul seun grootmaak, is "natuurlik vir hom. Hy noem my 'Daddy' en vir David 'Papa'."
John, wie se heropname van die 1973-treffer "Candle in The Wind" 33 miljoen kopieë verkoop het, het gesê sy seun verstaan nog nie sy pa se roem nie.
"Wanneer hy uitvind, gaan hy my aankyk asof ek mal is.
"Om die kind van 'n bekende persoon te wees, is 'n groot bal en ketting wat aan jou enkels vasgemaak is. Dit gaan baie moeilik wees."
John het ook gesê hy probeer die 19 maande oue Zachary musikaal grootmaak.
Oor sy eie loopbaan het hy gesê: "Ek sal opgee as ek voel die stem is weg, maar op 65 raak dit beter en ek is in die fleur van my lewe".
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP