Elton John gaan koninklike troue bywoon
2011-03-02 17:00
Los Angeles – Elton John, ‘n jarelange vriend van prinses Diana, het Dinsdag bevestig hy het ‘n uitnodiging vanaf prins William en Kate Middleton ontvang om hul troue by te woon.
Dít kom nadat John vroeër gesê het hy verwag nie om na die troue genooi te word nie omdat hy nie vir William so goed ken nie.
Die 63-jarige pianis het tydens ‘n onderhoud met die Kanadese televisieaanbieder, Marilyn Denis, oor sy pasgebore seun, Zachary, gepraat en ook oor nuwe projekte wat hy wil aanpak.
Toe Denis hom egter uitvra of hy die troue op 29 April in Londen gaan bywoon, was John eers huiwerig om te antwoord en het gesê hy het nie ‘n uitnodiging ontvang nie.
Maar toe Denis hom in kennis stel dat sy gehoor het hy het wel ‘n uitnodiging gekry het John dit erken waarna die gehoor spontaan hande geklap het.
John en sy lewensmaat David Furnish is in Kanada om hul seun aan Furnish se familie te wys.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters