Elizma vind liefde by Theuns
2010-03-05 10:14
Johannesburg - Derduisende aanhangers van twee van die land se gewildste sangers wag al lank om te hoor of almal se vermoedens toe waar was... En nou het Elizma Theron self die sluier oor haar verhouding met Theuns Jordaan gelig.
Selfs Hollywood kon nie ’n meer romantiese liefdesverhaal as dié van Theuns en Elizma opgetower het nie: ’n Jong aspirant-sangeres ontmoet een van die grootste sterre in die plaaslike musiekwêreld, en daar is onmiddellik vonke tussen die vrou met die lang, blonde hare en heldergroen oë en die man met die breë skouers en diep, gevoelvolle stem.
En boonop speel hulle ook teenoor mekaar in ‘n nuwe Afrikaanse fliek, Jakkalsdans.
Sy erken ook dat die vonke tussen hulle het gesorg vir iets heel spesiaals voor die kameras. “Dis belangrik dat daar ’n vlam tussen die hoofkarakters in ’n fliek moet wees, en dit help as daar ook ’n vonk tussen die akteurs is,” sê sy.
“Ons is saam en ons is gelukkig, maar dis privaat,” het sy aan Huisgenoot gesê.
“Ek was ook nie senuweeagtig om voor hom toneel te speel nie. Ons vertrou mekaar. Dit was spesiaal om teenoor Theuns te speel. Nie eens Hollywood-akteurs kry altyd die kans om teenoor hul ou of meisie of hul man of vrou te speel nie.”
Sy vertolk ook al die afgelope jaar die rol van Kriek in die kykNET-sepie Villa Rosa.
Vir meer oor Elizma en Theuns se verhouding, besoek www.huisgenoot.com.