Eks-werknemer agter Hogan-seksvideo
2012-10-12 14:02
Los Angeles – Hulk Hogan se seksvideo is glo deur ‘n voormalige werknemer van Hogan se beste vriend, Bubba the Love Sponge, vrygestel.
Die 59-jarige voormalige rofstoeier, wat Dinsdag bevestig het die vrou in die seksvideo is Heather Clem, die vrou van Bubba the Love Sponge, beweer nou dat ‘n voormalige werknemer van sy vriend verantwoordelik is vir die vrystelling van die video.
Bubba het na bewering die seksvideo aan sy voormalige werknemer gewys.
“Al het Bubba geweet hoeveel die video werd is, het hy nooit sy vriend in die rug gesteek nie. Hy is nie die een wat dit vrygestel het nie,” het ‘n bron vir RadarOnline.com gesê.
“Dit is ‘n voormalige werknemer van Bubba wat kwaad is omdat Bubba die radiostasie waar hulle saam gewerk het, verlaat het. Die werknemer het wraak gesoek.”
Bubba het glo ook die video vir verskeie ander mense gewys.
Hulk het onlangs erken dat die seksvideo die ergste ding is wat nog met hom gebeur het.
Hy het bevestig dat hy klagtes sal lê sodra hy uitvind wie die video vrygestel het.
“Ek het my familie daarop laat voorberei dat daar nog een kan wees. Ek het nie ‘n idée nie. Ek het nie die video gemaak nie. Ek sweer dat ek nie deel hiervan is nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- BangShowBiz