Egoli-ster mik nou na wêreldkroon
2009-08-04 07:15
Philip de Bruin
Kaapstad. - “Ek het my oog op die titel van Mnr. Wêreld. As ek net kan leer om my groot bek en my vinnige humeur in toom te hou, hoop ek dit is moontlik.”
Só het Gert van Schalkwyk, die vlieënier Jacques in die sepie Egoli, gister gesê nadat hy die naweek aangewys is as een van die finaliste in die Mnr. SA 2010-wedstryd.
Die wenner word in Februarie aangewys en die Mnr. Wêreld-wenner word in Augustus 2010 gekroon.
Van Schalkwyk het ’n ligte storm ontketen nadat hy die eerste keer op Egoli verskyn het. Die vroue (“en ek verstaan ’n hele paar ouens ook”) kon nie uitgepraat raak oor dié hartebreker nie.
Sy gewildheid was só groot dat Franz Marx Films (FMF), vervaardigers van Egoli, besluit het om sy rol in die sepie terug te skryf. Hy is juis nou besig met verfilming.
“Dit was vir my ’n groot eer om teruggeroep te word. Ek is dankbaar vir die kykers wat van my hou.” Hy wil niks verklap oor sy storielyn vir die nuwe verskyning nie en ook nie of hy dié keer’n bietjie meer lyf gaan wys nie.
“Ek sal, hoe ook al, aan lyf wys gewoond moet raak met die oog op die beoordeling van Mnr. SA. Gelukkig oefen ek baie gereeld en in alle beskeidenheid kan ek sê ek is nie skaam om in ’n speedo in die openbaar te verskyn nie.”
Die Burger