Eenvoud het ook trefkrag, sê Piet
2011-07-26 13:11
Kaapstad – As ‘n mens jonger is, sê Piet Botha, wil jy baie meer musiek gebruik om jou skeppings beter te laat klink, soos solo’s en goed. Met sy jongste album het hy egter met opset probeer om musiek te maak wat meer eenvoudig is, maar steeds ‘n treffende boodskap oordra.
Piet sit pyp in die hand by die Gatta Patat-teater in Kaapstad en bespreek die bekendstelling van Spookpsalms, sy jongste versameling liedjies.
“Ek het probeer om liedjies te skryf soos wat dit uit die ou tyd uit sou kom. Tydloos, met eenvoudige melodieë en tradisionele instrumente. Dis nie ‘n ligte album nie. Die woorde is nogal donker,” verduidelik hy, en trek aan sy pyp.
“Dis ‘n kunswerk, dié album. Die liedjies is aanmekaar geweef. Dis nie net ‘n album met ‘n klomp liedjies op nie. Dis soos ‘n painting.”
‘n Mengelmoes van musikante kan op die album gehoor word, maar vir Piet
was dit veral ‘n groot eer om saam met Ollie Viljoen te kon speel.
“Ons is jare lank al vriende en ek beskou hom as ‘n maestro.
Hy kry nie altyd die erkenning wat hy verdien nie. Om saam met hom te
speel, was ‘n wonderlike ervaring. Ek het baie by hom geleer.”

Piet sing “oor die lewe, die dood, gebroke harte en drome” omdat dinge soos politiek gewoonlik “soveel polemiek veroorsaak.”
“En die probleem met politiek is, daar is altyd meer as net een kant aan ‘n saak. Ek het geleer ‘n mens moet nie te haastig wees om jou mening te lug nie, want na ‘n tyd kan jy agterkom dat jy dalk verkeerd was.”
Dis veral vir hom ‘n plesier as mense deur sy musiek geraak word. “As dit emosioneel iets doen vir hulle."
“Baie keer sal mense na my toe kom en sê ‘ek het jou CD geluister en dit het my gehelp deur ‘n swaar tyd.’ Dit is nogal hardcore as iemand vir jou dit sê.”

Wanneer Piet oor sy jong dae uitgevra word, raak hy huiwerig. Hy verlang nie noodwendig na die dae toe Jack Hammer in Amerika getoer het nie, verduidelik hy, maar daar is sekere aspekte wat hy in ‘n mate sal wil terughê.
“Man, ek mis die sorgeloosheid van die jeug,” antwoord hy laggend en vat nog ‘n trek aan die pyp.
“Maar, die ondervinding wat ‘n mens oor 30 jaar opdoen, kan jy nie vervang nie, jy weet. Dit word amper jou power, jou mag en steunpilaar.”
Hy het nooit besef die tyd gaan so vinnig verby nie en het glad nie ‘n aftreeplan nie. Hy reken sy werk is van so ‘n aard dat hy nie, soos die gemiddelde, dasdraende werker al teen 60 hoef af te tree nie.
“Jy weet, my rolmodelle is almal al ouerig, soos Leonard Cohen, Bob Dylan en Neil Young. Hulle is almal al ver oor die sewentig en hulle toer nog.
“’n Kunstenaar word beter met die tyd en dit is wonderlik om te ervaar.”

“Daar is nie iets spesifiek wat ek nog wil doen nie. Ek wil net my kinders sien grootword en gelukkig wees."
As hy die keuse gehad het, sou hy beslis weer ‘n musikant wou word.
“Maar ek sou meer verantwoordelik opgetree het vir die eerste 15 of 20 jaar.” Hy probeer ‘n ernstige gesig maak, maar kan sy lag nie hou nie.
Wat van hom ‘n suksesvolle musikant maak, is die feit dat hy daarin glo om aanhoudend te toer en op te tree, sê hy.
“Ek het gesien hoe party kunstenaars swaar kry as hulle musiek vir ‘n tyd in die mode is en dan skielik draai die media sy rug op hulle en besluit die platemaatskappye hulle musiek val nie in hulle smaak nie. So, as jy so aanhou met toer en optree, bou jy half ‘n verhouding op... Die plekke waar ek nou speel, speel ek al vir meer as tien of vyftien jaar by. Ek kom altyd terug na dieselfde plekke tydens toere.”

Hy is vir die afgelope ruk besig met opnames saam met die Dennis-broers (Arthur en Rudi) en Jacques Groenewald. Hulle is deel van die Afrikaanse groep Akkedis.
“As ons saam speel, noem ons die band Lyzyrd Kyngs. Dit sal ‘n lekker southern rock-album wees en behoort miskien teen Oktober uit te kom.
“Dit kom maar omdat ons die afgelope twee jaar so baie saam speel. Ons het ‘n klomp nuwe liedjies en dis baie opwindend.
“Iets heeltemal anders om na uit te sien.”
– Kliek hier vir meer oor Piet Botha.
– Volg Piet Botha op Facebook en Twitter.
– Volg Lyzyrd Kyngs op Facebook.
– Volg Nuus24 op Twitter.