‘Een kwaadwillige’ papaja tref vrye fên
2010-11-28 10:24
Johannesburg - “As jy ’n foto van die Dawid-standbeeld deur die
Renaissance-kunstenaar Michelangelo neem en dit pornografie noem, sal
dit belaglik klink!” sê die kunstenaar Lizelle Kruger.
“Ek
probeer om naakstudies op ’n moderne manier te verf, maar met ou
invloede, wat my agtergrond as ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner
insluit.”
Kruger was die afgelope week nie heeltemal gelukkig
nie. ’n Herrie waaroor Rapport verlede Sondag berig het, woed die laaste
ruk oor een van haar kunswerke.
Die skildery Sannie het gaan
water haal daar onder by die dam, wat ’n kaal meisie met ’n
Voortrekkerkappie op in die Karoo-landskap onderweg na ’n
Climax-windpomp uitbeeld, het aandag getrek nadat dit op die voorblad
van die jongste uitgawe van die glanstydskrif Pomp verskyn het.
’n
Anonieme e-posaktivis was ontsteld oor dié prent, wat volgens haar
pornografies is, en het ’n veldtog teen die NG Kerk se lyfblad,
Kerkbode, begin omdat Pomp se uitgewer, Griffel, ook op Kerkbode se
webwerf adverteer.
Kerkbode en Griffel het albei ontken dat hulle
by pornografie betrokke is, maar die afgelope week het ook Kruger, die
skilder wat Sannie se kaal lyfie op ’n doek vasgelê het, besluit sy kan
nie langer stilbly nie.
Dié skildery is maar een van ’n hele
reeks genaamd Karoo-kado’tjies en omtrent almal van hulle het prente van
’n naakte Sannie in die Karoo (op een sit sy glad op ’n koos).
En nee, sê Kruger, daar is niks vulgêrs daaromtrent nie.
“Die
feit dat sy slegs ’n Voortrekkerkappie dra, versinnebeeld die
ongebondenheid van ’n jong meisie. Dit weerspieël die wyse waarop ek my
kinderdae in Namibië ervaar het: vry van al die pretensies en
opgesmuktheid van die moderne samelewing.”
En voordat mense nog verdere tekens van stoutigheid in die windpomp wil vind, het Kruger hulle sommer voorgespring.
“Daar
is geen bybedoelings met die woord ‘Climax’ op die windpomp nie. Dit is
net die handelsnaam van die vervaardiger. Dit bring wel ’n element van
humor in die werk in.”
Karoo-kado’tjies is ook nie net sommer ’n
lukrake groep skilderye van ’n kaal meisie nie. Hoe hoog dit aangeslaan
word, blyk daaruit dat dit volgende jaar van 24 Maart tot 21 April in
die Kaapstadse galery Salon 91 Contemporary Art Collection uitgestal
gaan word. Dit gaan ook deur die gesiene kunshandelaars Everard Read
verhandel word.
“My reputasie as ’n kunstenaar het 29 jaar
geneem om op te bou, maar kan beskadig word deur net een onsensitiewe en
kwaadwillige e-pos deur ’n buitestander wat nie eens die moed het om
haar identiteit bekend te maak nie.”
Kruger beskryf haarself as
’n vrysinnige kind van Namibië wie se benadering tot kuns gevorm is deur
jeugvakansies in die Karoo. “Ek hou my besig met die skep van pragtige
kunswerk en leef ’n stil lewe, met die toewyding wat ’n kunstenaar
benodig. Daarom het ek nie tyd vir ’n onsinnige geskinder nie. My ouma
het my geleer as jy niks goeds oor ’n ander mens kan sê nie, sê liewer
niks.”
- Rapport