Eastwood wys SA met deernis
2009-12-11 09:35
Paul Boekkooi
Kaapstad - Clint Eastwood sny met Invictus die gewonde siel van ons land diep binne. Hy doen dit met ’n mengsel van deernis en integriteit wat ons nie noodwendig van só ’n wêreldfiguur in die kuns van rolprentvervaardiging kon verwag het nie.
Hy toon met beelde ’n proses van nasiebou waarvan die meeste gewone Suid-Afrikaners in die turbulente eerste helfte van die 1990’s skaars bewus was, maar in John Carlin se boek Playing the Enemy in detail beskryf is: Oudpresident Nelson Mandela se kontak agter die skerms met die destydse Springbok-rugbykaptein François Pienaar oor sport se potensiaal om ’n erg verdeelde land te verenig tydens 1995 se Wêreldbeker-rugbytoernooi.
’n Deurlopende, rigtinggewende stukrag in dié proses was Invictus (die woord beteken “onoorwonne”), ’n gedig deur William Ernest Henley wat vir Gevangene 46664 (Mandela) op Robbeneiland en later in die Pollsmoor- en Victor Verster-gevangenisse ’n inspirasie was. Die laaste twee versreëls daarvan lees: “I am the master of my fate: / I am the captain of my soul.”
Eastwood is ’n man van min woorde. Hy maak sy kameralens die verteller. Binne die eerste twee minute is daar ’n openingstoneel wat die totale verdeeldheid van die land in 1990 tuisbring.
Kort ná Mandela se inhuldiging as president, spreek hy die presidensie se kantoorpersoneel toe. Daar vind ook ’n veelseggende ontmoeting tussen die ou garde- presidensiële lyfwagte en die nuwe regering se aanstellings in daardie afdeling plaas. Konflik en wantroue is tasbaar, maar ’n jaar later sien ons ’n ander prentjie. Nasiebouresultate.
Rugby, en in ’n mindere mate musiek, word die metafoor wat Invictus na sy hoogtes stuur. Daar is geen steen onaangeroer gelaat om dié charismatiese kontaksport in al sy fasette op film vas te lê nie. Trouens, van die belangrikste botsings tussen die Springbokke en ander spanne tydens die WB’95 is herskep – en briljant só. Eastwood het veral met die skrums en met die uitbeelding van duikslae sy beste en mees realistiese insae in dié spel getoon.
Morgan Freeman plaas ’n Madiba op die skerm presies soos ons hom leer ken het. Geen verpersoonliking nie, maar die mens self in gees, vlees en bloed. Matt Damon het talle sterk momente as François Pienaar. Veral sy groei oor tyd na ’n gedugte spankaptein oortuig.
In die beste Hollywood-tradisie, maar minstens outentiek en in ’n eg Suid-Afrikaanse konteks geplaas, is daar die massatonele in die stadions waaraan ’n mens jou kan verkneukel. Selfs die geringste rolbesetting het spesiale aandag gekry. Kyk veral uit na die twee polisiekonstabels en die straatseun buite Ellispark tydens die eindstryd – ’n terugkerende juweeltjie van menslikheid in aksie.
Politiek is merendeels uit Invictus geweer. Mandela is en was in vergelyking met sy opvolgers eerder ’n staatsman as politikus. Al mag onderdele as oorvereenvoudig en dalk ietwat sentimenteel oorkom, dwing Eastwood die kyker dalk onbewustelik om ook vanuit hierdie perspektief ons land in sy huidige situasie – helaas deels bejammerenswaardig – te beskou. Wat het van Nelson Mandela se visioenêre nalatenskap oorgebly?
Paul Boekkooi
-Die Burger