Dytjies, borsies, soesji op een bord
2010-11-07 11:47
Rapport
Talle meisies droom daarvan om eendag ’n tafel met ’n ryk Johannesburgse sakeman-pierewaaier soos Kenny Kunene of ’n politikus soos Julius Malema te deel.
Maar vir sommige is daar ’n geleentheid om selfs ’n tafel vir dié twee te wees.
Kunene en Malema is die laaste tyd in die nuus weens ’n uitspattige partytjie waar hulle onder meer soesji van ’n skraps geklede meisie se lyf af geëet het, maar hulle is allermins die eerste mense wat met dié truuk vorendag gekom het.
“Ons het al prokureurs, dokters en studente gehad wat soesji van ons meisies af kom eet het,” vertel Caroline Delpiccolo van die Kaapstadse restaurant Bamboo Fusion, waar hulle elke Maandag soesji op halfnaak meisies bedien. “Daar was selfs al ’n ma wat haar seun hierheen gebring het vir sy 18de verjaardag.”
“Niotaimori” is die Japanse woord vir die ou kuns om ’n vrou se lyf as skinkbord vir soesji te gebruik. (Daar is in Japan ook ’n praktyk genaamd “nantaimori”, waar soesji op ’n halfkaal man bedien word, maar dit is minder gewild.)
Ook buite Japan, waar soesji die laaste jare al hoe gewilder word, word dit in stede soos New York só bedien.
En nou is dit in Suid-Afrika.
Op die webwerf van ’n plaaslike werwingsagentskap word werk geadverteer vir meisies wat “’n paar uur lank stil kan lê en nie omgee as hulle van tyd tot tyd met koue water gespat of met eetstokkies geknyp word nie”.
Die advertensie lui ook: “Benewens haar lende, wat gewoonlik met garnering bedek word, hang die model se kuisheid af van die tydelike posisie van kos op haar lyf.”
In oorsese advertensies word gemaan teen niotaimori-meisies met groot borste omdat die soesji kan afrol.
Delpiccolo sê haar niotaimori-meisies hou hul skoene en broekies aan terwyl hulle lê, maar nie veel meer nie. Hulle word wel plek-plek met nori (’n eetbare seegras-papier) bedek sodat die soesji daarop kan lê.
“Die soesji raak nie aan haar vel nie. Maar sy moet nogtans skoon wees. Niemand gaan van haar af eet as sy nie skoon is nie. Sy moet stort voordat sy lê.”
In Kaapstad is dié tydverdryf nie net vir superrykes soos Kunene nie. Vir ’n welwillendheidsgeleentheid wat op 20 November in Bamboo Fusion aangebied word, hoef seekosliefhebbers net R120 op te dok vir ’n lewende soesji-buffet.
En dis g’n seksisties nie, sê Delpiccolo. “Ek sou sê so 60% van die mense wat vir ons Naked Sushi-aande opdaag, is vroue. Vroue is baie nuuskierig.”
Hulle gebruik ontkleedanseresse, modelle en studente, “solank haar lyf goed genoeg is. Ons gaan nie sommer enige meisie van die straat af kry nie.”
En in teenstelling met Japan, waar die niotaimori-meisies doodstil lê, geniet Suid-Afrikaners glo ’n buffet met persoonlikheid. “Mense wil by haar hoor wie sy is en van waar sy is voordat hulle van haar af eet. Dit is altyd goed as ’n meisie ’n borrelende persoonlikheid het.”
- Rapport