Dynamo verfilm in SA
2012-11-15 13:22
Kaapstad – Die Britse kulkunstenaar Dynamo is tans in Suid-Afrika en sal 'n rukkie langer in die land bly om 'n spesiale episode vir die derde reeks van sy program, Dynamo: Magician Impossible, te verfilm, berig Channel24
Die derde seisoen sal in die tweede helfte van 2013 op die Discovery-kanaal (DStv, kanaal 121) uitgesaai word.
Intussen begin die tweede reeks van Dynamo: Magician Impossible Woensdag 21 November in Suid-Afrika om 20:30 op die Discovery-kanaal.
Lee Hobbs van dié kanaal en Dynamo het gesamentlik aangekondig dat hy vir 'n ruk lank in Suid-Afrika gaan aanbly vir die verfilming van 'n spesiale episode.
"Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat Dynamo 'n episode van reeks drie van Dynamo: Magician Impossible in Kaapstad en Johannesburg gaan verfilm," het Hobbs gesê.
"Die reeks is een van die mees suksesvolle programme wat ons al ooit op die Discovery-kanaal in Suid-Afrika uitgesaai het, en 'n spesiale episode sal in die grootste stede verfilm word, en ons DStv-kykers sal dit definitief geniet.
"Ons kan nog niks sê oor wat hy gaan doen nie, want dit sal die pret bederf, maar ek is baie opgewonde."
Altesaam 1,8 miljoen kykers was vasgenael voor die kassie vir die eerste reeks van Dynamo: Magician Impossible.
Die episode van dié program wat in Suid-Afrika verfilm word, is die eerste episode in die derde reeks wat uitgesaai word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Channel24