Duur skildery beskadig ná val
2011-01-27 08:11
Kaapstad - Skaars ’n dag nadat ’n enorme skildery van die Kaapse stadsraad in die Kunstekaap-teater gehang is, het dit van die muur geval.
Die skildery deur Frederick Goodall, Subsiding of the Nile, wat meer as R2 miljoen werd is, is as deel van Die Burger-Suidoosterfees in dié teater gehang.
Die werkers en organiseerders krap steeds kop oor presies hoe die voorval gebeur het.
Volgens Angela Daniels, ’n restourateur, gaan dit nie te moeilik wees om die skildery heeltemal te herstel nie.
“Gelukkig is daar nie groot skade aangerig nie. Die skildery sal heeltemal herstel kan word.”
Sy het die skildery Woensdag onder oë gehad nadat die versekeringsmense dit gesien het.
Die skildery het tydens middagete van die muur geval en met die gesigkant op ’n tafel te lande gekom. Die skerp rand van die tafel het ’n skeur in die linkerkantste hoek veroorsaak.
Werkers het skaars hul middagete gesluk toe hulle die groot knal gehoor en uit hul kantore gehardloop het.
“Ons het net ’n harde slag gehoor. Toe ons weer sien, lê die skildery op die grond, stukkend,” het ’n sekerheidswag gesê.
Verskeie mense wou Dinsdag, toe die skildery in die teater gehang is, weet of die spykers die gewig van die skildery en raam kan dra.
Hulle is verseker dat die skildery nie sal afval nie.
Die organiseerders het egter nie op die onvoorsiene (voor)val gereken nie.
Fritz Marx, hoof van protokol en burgemeestersprojekte in die kantoor van die uitvoerende burgemeester, het bevestig dat die skildery herstel sal word.
“Die versekering het daarna kom kyk. Hulle sal egter eers Donderdag (vandag) die totale skade aan ons bekend maak,” het hy gesê.
- Die Burger